Die Heidelbergse Kategismus

of onderwysing in die christelike leer
(Spykeman GJ, 1969 Never on your own. p. 1-7)
Dit het op Paas-Sondag 1945, die jaar waarin die Tweede Wêreldoorlog geëindig het, in die
universiteit-stad Heidelberg in Duitsland, gebeur: Die Duitsers het die brug oor die Neckar-rivier
opgeblaas, sodat die Geallieerdes nie Duitsland so vinnig kon binne storm nie.
Die Amerikaners het ’n nuwe militêre brug
gebou en tenks en troepe stroom Heidelberg
binne. Maar daar word geen skoot geskiet
nie. Die oudste universiteit in Duitsland, die
juweeldorpie van die Neckar-vallei, die plek
waar die Heidelbergse Kategismus geskryf
is, bly ongeskonde. Duitse en Amerikaanse
offisiere het onderling ooreengekom dat die
stad ongeskonde sou bly om die ryk
historiese erfenis en onskatbare rykdom wat
by die Universiteit in Heidelberg is, behoue
kon bly.
Dit is sekerlik hoe God ook bepaal het
dat wat van belang was vir die kerk,
vir die gesonde leer, vir die
verkondiging van die suiwer evangelie
nie verlore sou gaan nie.
Hier in Heidelberg (1563) is die Heidelbergse Kategismus geskryf. Dit is geskryf as ’n
belydenisskrif vir die reformatoriese of gereformeerde kerke as ’n leerboek van die
gereformeerde leer, die leer van die Bybel. Daar is selfs in baie ou Duitse Bybels ’n prentjie van
Adam wat op ’n stomp sit en sy seuns Kain en Abel onderrig met ’n boek in sy hand en op die
boek staan: Heidelbergse Kategismus.
Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther, op
34 jarige ouderdom, sy 95 stellinge teen die
Roomse leer oor die saligheid in Wittenberg
teen die kerkdeur vasgespyker. In 1536 het
Johannes Calvyn as ’n tweede generasie
hervormer, in Geneva sy roeping begin. Hy
was maar 27 toe hy die eerste edisie van
die Christelike Institusie geskryf het. Teen
die tyd wat die Heidelbergse Kategismus, in
1563 verskyn het, was dit die derde
generasie hervormers. Luther was al dood,
Calvyn was al baie oud
Die skryf van die Heidelbergse Kategismus
was nie maklik nie. Daar was nog baie
Rooms Katolieke wat tussen die hervormers
naamlik die Lutherane, die Zwinliane en die
Calviniste, gebly het. Daarom was daar ’n groot nood om die kinders en die jong christene,
namlik die protstante, in die GESONDE LEER, te onderrig, daarom is die Heidelbergse Kategismus
geskryf.
Die behoefte aan ’n belydenisskrif waaruit kinders en jong christene onderrig kon word, het in
1560 ontstaan, toe daar drie toegewyde christene na die beroemde stad Heidelberg gekom het.
Die drie manne was:
 Frederik III, keurvors van Palts, het Heidelberg as sy hoofstad gebruik.
 Caspar Olevianus ’n nuwe predikant in Heidelberg.
 Prof. Zacharias Ursinus wat aan die universiteit teologie kom doseer het.
Olevianus (26 jaar oud) en Ursinus (28 jaar) het in opdrag van Frederik III die kategismus in
ongeveer ‘n jaar voltooi. God het hierdie drie merkwaardige manne bymekaargebring om te sorg
dat die Heidelbergse Kategismus geskryf word wat nou al vir meer as 437 jaar lank deur kerk
gebruik word as ’n baie belangrike belydenis-skrif om jong kinders sistematies in die
Gereformeerde leer te onderrig.
Verskeie sinodes van die 16de eeu en ook die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618-1619) het
dit as een van die belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke aanvaar.
INDEKS
Sondag 1 [1-2] My enigste troos
DIE EERSTE DEEL: Die Ellende van die Mens
Sondag 2 [3-5] My ellende
Sondag 3 [6-8] Sondig en verkeerd geskep?
Sondag 4 [9-11] Word teveel nie ge-eis nie?
DIE TWEEDE DEEL: Die Verlossing van die Mens
Sondag 5 [12-15] Hoe kan ons bevry word?
Sondag 6 [16-19] Christus ware en regverdige mens en terselfdertyd ware God
Sondag 7 [20-23] Die Geloofsbelydenis
Sondag 8 [24-25] Indeling van die artikels
God die Vader en ons skepping (Sondag 9, 10)
Sondag 9 [26] God die Vader, die Almagtige ...
Sondag 10 [27-28] Voorsienigheid van God
God die Seun en ons verlossing (Sondag 11-19)
Sondag 11 [29-30] Jesus ons verlosser
Sondag 12 [31-32] Waarom word jy 'n Christen genoem?
Sondag 13 [33-34] Christus seun van God en ons is sy kinders
Sondag 14 [35-36] wat ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria
Sondag 15 [37-39] Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely?
Sondag 16 [40-44] Christus het hom tot in die dood verneder
Sondag 17 [45] Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Sondag 18 [46-49] Opgevaar na die hemel
Sondag 19 [50-52] Sit aan die regterhand van God
God die Heilige Gees en ons heiligmaking (Sondag 20-22)
Sondag 20 [53] Die Heilige Gees
Sondag 21 [54-56] Die Christelike kerk
Sondag 22 [57-58] Opstanding van die liggaam
Sondag 23 [59-61] Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?
Sondag 24 [62-64] Verdien ons goeie werke dan niks nie?
Die Heilige Sakramente (Sondag 25-30)
Sondag 25 [65-68] Wat is die sakramente?
Die Heilige Doop (Sondag 26-27)
Sondag 26 [69-71] Met die bloed en Gees van Christus gewas
Sondag 27 [72-74] Moet die jong kinders ook gedoop word?
Die Heilige Nagmaal van Ons Here (Sondag 28-30)
Sondag 28 [75-77] Jy het deel aan die offerande van Christus aan die kruis
Sondag 29 [78-79] Verander die brood en wyn in die werklike liggaam en bloed van Christus?
Sondag 30 [80-82] Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?
Die Kerklike Tug (Sondag 31)
Sondag 31 [83-85] Die sleutels van die koninkryk van die hemel
DIE DERDE DEEL: Die dankbaarheid wat ons aan God vir verlossing verskuldig is
Sondag 32 [86-87] Waarom moet ons nog goeie werke doen?
Sondag 33 [88-91] Die ware bekering van die mens
Die Wet (Sondag 34-44)
Sondag 34 [92-95] Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
Sondag 35 [96-98] Jy mag vir jou geen gesnede beeld ...
Sondag 36 [99-100] Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie
Sondag 37 [101-102] Mag 'n mens ook godvresend by die Naam van God 'n eed sweer?
Sondag 38 [103] Gedenk die sabbatdag
Sondag 39 [104] Eer jou vader en jou moeder
Sondag 40 [105-107] Jy mag nie doodslaan nie
Sondag 41 [108-109] Jy mag nie egbreek nie
Sondag 42 [110-111] Jy mag nie steel nie
Sondag 43 [112] Jy mag geen vals getuienis teen jou naaste spreek nie.
Sondag 44 [113-115] Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie
Die Gebed (Sondag 45-52)
Sondag 45 [116-119] Die Onse Vader
Sondag 46 [120-121] Waarom het Christus ons beveel om God as ons Vader aan te spreek?
Sondag 47 [122] Laat u Naam geheilig word
Sondag 48 [123] Laat u koninkryk kom
Sondag 49 [124] Laat u wil geskied
Sondag 50 [125] Gee ons vandag ons daaglikse brood
Sondag 51 [126] Vergeef ons ons skulde
Sondag 52 [127-129] Lei ons nie in versoeking nie
Hoe sluit jy jou gebed af?
Sondag 1
Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan
my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes
ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar my op so 'n
wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet
inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die
ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a)Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14 (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e)
Heb 2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30;
Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:
Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Antwoord: Drie dinge (a): Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is (b); ten tweede; hoe ek
van al my sonde en ellende verlos word (c) en ten derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar
moet wees (d).
(a)Matt 11:28-30; Ef 5:8. (b) Joh 9:41; Matt 9:12; Rom 3:10;1 Joh 1:9;10. (c) Joh 17:3; Hand
4:12 10:43. (d) Ef 5:10; Ps 50:14; Matt 5:16; 1 Pet 2:12; Rom 6:13; 2 Tim 2:15:
Sondag 2
Vraag 3: Waaruit ken jy jou ellende?
Antwoord: Uit die wet van God (a).
(a)Rom 3:20.
Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons?
Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God
liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot
gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan
hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (a).
(a)Deut 6:5; Lev 19:18; Mark 12:30; Luk 10:27
Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Antwoord: Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat (b).
(a)Rom 3:10, 20, 23;1 Joh 1:8, 10. (b) Rom 8:7; 2:3; Tit 3:3; Gen 6:5; 8:21; Jer 17:9; Rom
7:23.
Sondag 3
Vraag 6: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?
Antwoord: Nee, God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld geskep (b). Dit beteken: in ware
geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en
saam Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys (c).
a)Gen 1:31. (b) Gen I:26, 27. (c) Ef 4:24; Kol 3 2 Kor 3:18.
Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan vandaan?
Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys
(a). Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word (b).
(a)Gen 3; Rom 5:12, 18, 19. (b) Ps 51:7; Gen 5:3
Vraag 8: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle
kwaad geneig is?
Antwoord: Ja (a), behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word (b).
(a)Gen 8:21;6:5; Job 14:4; 15:14, 16, 35; Joh 3:6; Jes 53:6. (b) Joh 3:3, 5;1 Kor 12:3; 2 Kor
3:5.
Sondag 4
Vraag 9: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan
doen nie?
Antwoord: Nee (a), want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen (b). Maar die mens
het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel (c) en deur
moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.
(a)Ef 4:24. (b) Gen 3:13; 1 Tim 2:13, 14. (c) Gen 3:6; Rom 5:12.
Vraag 10: Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?
Antwoord: Nee, glad nie; inteendeel, sy toorn is verskriklik (a) sowel oor die erfsonde as oor die
sonde wat ons self doen: Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met 'n regverdige oordeel straf
(b). Hy het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die
wet om dit te doen nie (c).
(a)Gen 2:17; Rom 5:12. (b) Ps 50:21; 5:6; Nah 1:2; Eks 20:5; 34:7; Rom 1:18; Ef 5:6. (c) Deut
27:26; Gal 3:10.
Vraag 11: Is God dan nie ook barmhartig nie?
Antwoord: God is wel barmhartig (a); maar Hy is ook regverdig (b). Daarom eis sy geregtigheid
dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is; ook met die swaarste straf
gestraf moet word - dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.
(a)Eks 34:6, 7; 20:6. (b) Ps 7:10; Eks 20:5; 23:7; 34:7; Ps 5:5, 6; Nah 1:2, 3.
Sondag 5
Vraag 12: Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf
verdien het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?
Antwoord: God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word (a). Daarom moet ons òf deur
onsself òf deur 'n ander ten volle betaal (b).
(a)Gen 2:27; Eks 23:7; Eseg 18:4; Matt 5:26; 2 Tess 1:6; Luk 16:2. (b) Rom 8:4.
Vraag 13: Kan ons deur onsself betaal?
Antwoord: Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter (a).
(a)Job 9:2; 15:15, 16; 4:18, 19; Ps 130:3; Matt 6:12; 18:25; 16:26.
Vraag 14: Kan enige ander skepsel vir ons betaal?
Antwoord: Nee, want Ten eerste wil God aan geen ander skepsel die skuld straf wat die mens
gemaak het nie (a). Ten tweede kan geen gewone skepsel die las van die ewige toorn van God
teen die sonde dra en ander skepsels daarvan verlos nie (b).
(a)Eseg 18:4; Gen 3:17. (b) Nah 1:6; Ps 130:3.
Vraag 15: Hoe 'n middelaar en verlosser moet ons dan soek?
Antwoord: So een wat 'n ware (a) en regverdige (b) mens is, maar nogtans ook sterker as alle
skepsels is, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is (c).
(a)1 Kor 15:21 (b) Heb 7:26. (c) Jes 7:14; 9:5; Jer 23:6; Luk 11:22.|
Sondag 6
Vraag 16: Waarom moet hy 'n ware en regverdige mens wees?
Antwoord: Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir
die sonde moet betaal (a). Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie (b).
(a)Eseg 18:4, 20; Rom 5:18; 1 Kor 15:21; Heb 2:14-16. (b) Heb2:26, 27; Ps 49:8; 1 Pet 3:18:
Vraag 17: Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?
Antwoord: Om deur die krag van sy Godheid (a) die las van die toorn van God (b) aan sy
mensheid te kon dra (c) en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee (d).
(a)Jes 9:5; 63:3; (b) Deut 4:24; Nah 1:6; Ps 130:3. (c) Jes 53:4, 11; (d) Jes 53:5, 11.
Vraag 18: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God (a) en ware (b) regverdige mens
is (c)?
Antwoord: Ons Here Jesus Christus (d), wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking
en volkome verlossing gegee het (e).
(a)1 Joh 5:20; Rom 9:5; 8:3; Gal 4:4; Jes 9:6; Jer 23:6; Mal 3:1 (b) Luk 1:42; 2:6, 7; Rom 1:3;
9:5; Fil 2:7; Heb 2:14, 16, 17; 4:15. (c) Jes 53:9, 11; Jer 23:5; Luk 1:35; Joh 8:46; Heb 4:15;
7:26; 1 Pet 1:19; 2:22, 3:18. (d) l Tim 2:5; Matt 1:23; 1 Tim 3:16; Luk 2:11; Heb 2:9..(e) 1 Kor
1:30.
Vraag 19: Waaruit weet jy dit?
Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het
(a). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (b) en profete (c) laat verkondig en deur die
offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld; (d). Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore
Seun vervul (e).
(a)Gen 3:15: (b) Gen 22:18; 12:3; 49:10. (c) Jes 53; 42:1-4; 43:25; 49:5, 6, 22, 23; Jer 23:5,
6; 31:32, 33; 32:39-41, Miga 7:18-20; Hand 10:43; 3:22-24; Rom 1:2; Heb 1:1. (d) Heb 10:1,
7; Kol 2:7; Joh 5:46. (e) Rom 10:4; Gal 4:4; 3:24; Kol 2:17.
Sondag 7
Vraag 20: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan
het?
Antwoord: Nee; (a); maar slegs die wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy
weldade aanneem (b).
(a)Matt 7:14; 22:14. (b) Mark 16:16; Joh 1:12; 3:16, 18, 36; Jes 53:11; Ps 2:12; Rom 11:20;
3:22; Heb 4:3; 5:9; 10:39; 11:6.
Vraag 21: Wat is 'n ware geloof?
Antwoord: 'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy
Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue (b) wat die
Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie,
maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e),
vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.
(a)Jak 2:19. (b) Heb 11:1, 7; Rom 4:18-21; 10:10; Ef 3:12; Heb 4:16; Jak 1:6. (c) Gal 5:22;
Matt 16:17; 2 Kor 4:13; Joh 6:29; Ef 2:8; Fil 1:19; Hand 16:14. (d) Rom 1:16; 10:17; 1 Kor
1:21; Hand 10:44; 16:14. (e) Ef 2:8; Rom 3:24; 5:19; Luk 1:77, 78. (f) Rom 1:17; Gal 3:11;
Heb 10:10, 38; Gal 2:16.
Vraag 22: Wat moet 'n Christen glo?
Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die artikels van ons
algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.
(a)Joh 20:31; Matt 28:19; Mark 1:15.
Vraag 23: Hoe lui die artikels?
Antwoord: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
(2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore uit die maagd Maria; (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en
begrawe is en neergedaal het na die hel; (5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die
dood; (6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, (7)
waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. (8) Ek glo in die Heilige
Gees. (9) Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; (10)
die vergewing van sondes; (I1) die opstanding van die liggaam (12) en 'n ewige lewe.
Sondag 8
Vraag 24: Hoe word hierdie artikels ingedeel?
Antwoord: In drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping; die tweede oor
God die Seun en ons verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.
Vraag 25: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie,
naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees (a)?
Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het (b) dat hierdie drie onderskeie
Persone die enige, ware en ewige God is.
(a)Deut 6:4; Ef 4:6; Jes 44:6; 45:5; 1 Kor 8:4, 6. (b) Jes 61:1; Luk 4:18; Gen 1:2, 3; Ps 33:6;
Jes 48:16; Matt 3:16, 17; 28:19; 1 Joh 5:7; Jes 6:1, 3; Joh 14:26; 15:26; 2 Kor 13:13; Gal 4:6;
Ef 2:l8; Tit 3:5, 6.
Sondag 9
Vraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die
hemel en die aarde?
Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met
alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou
en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat
ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d).
Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e),
omdat Hy dit as 'n almagtige God kan (f) en ook as 'n getroue Vader wil doen (g).
(a)Gen 1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38, 39; Hand 4:24; 14:15; Ps 33:6; Jes 45:7. (b) Heb 1:3;
Ps 104:27-30; 115:3; Matt 10:29; Ef 1:11: (c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5. (d) Ps
55:23; Matt 6:25, 26; Luk 12:22. (e) Rom 8:28: (f) Jes 46:4; Rom 10:12. (g) Matt 6:32, 33;
7:9-11.
Sondag 10
Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en
al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en
droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom
en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a)Hand 17:25-28; Jer 23:23, 24; Jes 29:15, 16; Eseg 8:12. (b) Heb 1:3. (c) Jer 5:24; Hand
14:17. (d) Joh 9:3. (e) Spr 22:2. (f) Matt 10:29; Spr 16:33.
Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy
voorsienigheid onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder
dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen
skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle
sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a)Rom 5:3; Jak 1:3; Ps 39:10; Job 1:21, 22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c) Ps 55:23; Rom
5:4. (d) Rom 8:38, 39. (e) Job 1:12; 2:6; Spr 21:1; Hand 17:2.
Sondag 11
Vraag 29: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?
Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a) en by niemand anders enige saligheid te
soek of te kry is nie (b).
(a)Matt 1:21; Heb 7:25. (b) Hand 4:12; Joh 15:4, 5; 1 Tim 2:5; Jes 43:11; 1 Joh 5:11.
Vraag 30: Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders
soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?
Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus,
alhoewel hulle met die mond in Hom roem (a). Slegs een van twee dinge is immers moontlik: of
Jesus is nie 'n volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met 'n ware geloof aanneem,
het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is (b).
(a)1 Kor 1:13, 30, 31; Gal 5:4..(b) Heb 12:2; Jes 9:6; Kol 1:19, 20; 2:10; 1 Joh 1:7.
Sondag 12
Vraag 31: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is
(a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God
aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het (c); tot ons enigste Hoëpriester (d), wat
ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur by die
Vader vir ons intree (f); tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by
die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).
(a)Ps 45:8; Heb 1:9; Jes 61:1; Luk 4:18. (b) Deut 18:15; Hand 3:22; 7:37; Jes 55:4. (c) Joh
1:18; 15:15. (d) Ps 110:4. (e) Heb 10:12, 14; 9:12, 14, 28. (f) Rom 8:34; Heb 9:24; 1 Joh 2:1;
Rom 5:9, l0. (g) Ps 2:6; Sag 9:9; Matt 1:5; Luk l:33; Matt 28:18; Joh 10:28 Op 12:10, 11.
Vraag 32: Waarom word jy 'n Christen genoem (a)?
Antwoord: Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is (b) en daardeur deel aan sy salwing
het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d), myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en
in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met
Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).
(a)Hand 11:26. (b) 1 Kor 6:15. (c) 1 Joh 2:27; Hand 2:17. (d) Matt 10:32; Rom 10:10. (e) Rom
I2:1; 1 Pet 2:5, 9; Op 1:6; 5:8, 10. (f) 1 Pet 2:11; Rom 6:12, 13;. Gal 5:16, 17; Ef 6:11; 1 Tim
1:18, 19. (g) 2 Tim 2:12; Matt 25:34.
Sondag 13
Vraag 33: Waarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem terwyl ons tog ook
kinders van God is?
Antwoord: Omdat alleen Christus die ewige natuurlike Seun van God is (a), terwyl ons om sy
ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem is (b).
(a)Joh 1:14; Heb 1:1, 2; Joh 3:16;1 Joh 4:9; Rom. 8:32. (b) Rom 8:16; Joh 1:12; Gal 4:6; Ef
1:5, 6.
Vraag 34: Waarom noem jy Hom ons Here?
Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die
duiwel nie met goud of silwer nie maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop
het (a).
(a)1 Pet 1:18, 19; 2:9; 1 Kor 6:20; 1 Tim 2:6; Joh 20:28.
Sondag 14
Vraag 35: Wat beteken: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?
Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is (a) en bly (b), die ware
menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria (c) deur die werking van die Heilige
Gees aangeneem het (d). So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid (e), in alles aan
sy broers gelyk (f), behalwe die sonde (g).
(a)1 Joh 5:20; Joh l:l; 17:3; Rom 1:3, Kol 1:15. (b) Rom 9:5. (c) Gal 4:4; Luk 1:31, 42, 43. (d)
Matt 1:20; Luk 1:35. (e) Rom 1:3; Ps 132:11; 2 Sam 7:12; Luk 1:32; Hand 2:30. (f) Fil 2:7;
Heb 2:14, 17. (g) Heb 4:15.
Vraag 36: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?
Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is (a), en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde
waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek (b).
(a)Heb 7:26, 27. (b) 1 Pet 1:18, 19; 3:18; 1 Kor 1:30, 31; Rom 8:3, 4; Jes 53:11; Ps 32:1.
Sondag 15
Vraag 37: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely?
Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die
einde daarvan die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het (a). So
het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer (b) ons liggaam en siel van die ewige
verdoemenis verlos (c) en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe
verwerf (d).
(a)Jes 53:4; 1 Pet 2:24; 3:18; 1 Tim 2:6. (b) Jes 53:10; Ef 5:2; 1 Kor 5:7; 1 Joh 2:2; Rom
3:25; Heb 9:28; 10:14. (c) Gal 3:13; Kol 1:13; Heb 9:12; 1 Pet 1:18, 19. (d) Rom 3:25; 2 Kor
5:21; Joh 3:16; 6:51; Heb 9:15; 10:19.
Vraag 38: Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely?
Antwoord: Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word (a) en ons
daardeur sou bevry van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom (b).
(a)Joh 18:38; Matt 27:24; Luk 23:14, 15; Joh 19:4. (b) Ps 69:5; Jes 53:4, 5; 2 Kor 5:21; Gal
3:13.
Vraag 39: Sit daar iets meer in dat Christus juis gekruisig is en nie op 'n ander manier gesterf
het nie:
Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom
geneem het (a), omdat die kruisdood deur God vervloek is (b)
(a)Gal 3:13. (b) Deut 21:23.
Sondag 16
Vraag 40: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?
Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood
van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).
(a)Gen 2:17. (b) Rom 8:3, 4; Heb 2:14, 15.
Vraag 41: Waarom is Hy begrawe?
Antwoord: Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).
(a)Hand 13:29; Matt 27:59, 60; Luk 23:53; Joh 19:38.
Vraag 42: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?
Antwoord: Ons dood is nie 'n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs 'n afsterwe van die
sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe (b).
(a)Mark 8:37; Ps 49:8. (b) Fil 1:23; Joh 5:24; Rom 7:24.
Vraag 43: Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?
Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a).
Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as 'n
dankoffer aan Hom toewy (c).
(a)Rom 6:6. (b) Rom 6:6, 12. (c) Rom 12:1.
Vraag 44: Waarom volg daar: en neergedaal het na die hel?
Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan
vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie
verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook
aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely.het.
(a)Jes 53:5. (b) Ps 18:5, 6; 116:3; Matt 26:38; 27:46 Heb 5:7
Sondag 17
Vraag 45: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid
wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Ten tweede word ons nou ook deur sy
krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). Ten derde is die opstanding van Christus vir ons n betroubare
waarborg van ons salige opstanding (c).
(a)Rom 4:25; 1 Pet 1:3; 1 Kor 15:16. (b) Rom 6:4; Kol 3:1, 5; Ef2:5, 6. (c) 1 Kor 15:20, 21.
Sondag 18
Vraag 46: Wat verstaan jy onder: wat opgevaar het na die hemel?
Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem (a)
en Hy is vir ons daar ten goede (b) totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die
wat alreeds gesterf het (c).
(a)Hand 1:9; Mark 16:19; Luk 24:51: (b) Heb 9:24; 4:14; Rom 8:34; Kol 3:1. (c) Hand 1:11;
Matt 24:30.
Vraag 47: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie (a)?
Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer
op aarde nie (b), maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer
van ons af weg nie (c).
(a)Matt 28:20. (b) Heb 8:4; Matt 26:11; Joh 16:28; 17:11; Hand 3:21. (c) Joh 14:18; Matt
28:20.
Vraag 48: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in
Christus dan nie van mekaar geskei nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is orals
teenwoordig (a). Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid (b) is,
maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.
(a)Jer 23:24; Hand 7:49. (b) Kol 2:9; Joh 3:13; 11:15; Matt 28:6.
Vraag 49: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is (a). Ten tweede dat
ons ons menslike natuur in die hemel as 'n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook
ons, sy lede, na Hom toe sal neem (b). Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur
(c) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God
sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).
(a)1 Joh 2:1; Rom 8:34. (b) Joh 14:2; 17:24; 20:17 2:6. (c) Joh 14:16; 16:7; Hand 2:33; 2 Kor
1:22; 5:5 (d) Kol 3:1.
Sondag 19
Vraag 50: Waarom word daar bygevoeg: en sit aan regterhand van God?
Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Hom daar as die Hoof van sy
Christelike kerk (a) kan betoon, deur wie die Vader alles regeer (b).
(a)Ef 1:20-23; Kol 1:18. (b) Matt 28:18; Joh 5:22.
Vraag 51: Watter nut bring hierdie heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort
(a). Ten tweede dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar (b).
(a)Hand 2:33; Ef4:8. (b) Ps 2:9; 110:1, 2; Joh 10:28: Ef 4:8.
Vraag 52: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies
te oordeel?
Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as
Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en
alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige
verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse
blydskap en heerlikheid saamneem (c).
(a)Fil 3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13; 1 Tess 4:16. (b) Matt 25:41; 2 Tess 1:6. (c) Matt
25:34; 2 Tess 1:7.
Sondag 20
Vraag 53: Wat glo jy van die Heilige Gees?
Antwoord: Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God (a). Ten
tweede is Hy ook aan my gegee (b) sodat Hy my deur 'n ware geloof deel laat kry aan Christus
en al sy weldade, (c) my troos (d) en ewig by my bly (e).
(a)1 Joh 5:7; Gen 1:2; Jes 48:16;1 Kor 3:16; 6:19; Hand 5:3, 4. (b) Gal 4:6; Matt 28:19, 20; 2
Kor 1:22 ; Ef 1:13. (c) Gal 3:14;1 Pet 1:2;1 Kor 6:17. (d) Joh 15:26; Hand 9:31. (e) Joh
14:16;1 Pet 4:14.
Sondag 21
Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?
Antwoord: Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom 'n gemeente wat
tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof
(e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g) en
dat ek daarvan 'n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).
(a)Ef 5:26; Joh 10:11; Hand 20:28; Ef 4:11-13. (b) Gen 26:4; Op 5:9. (c) Rom 8:29; Ef 1:10-
13. (d) Jes 59:21; Rom 1:16; 10:14-l7; Ef 5:26. (e) Hand 2:42, Ef4:3-5. (f) Ps 71:17, 18; Jes
59:21; 1 Kor 11:26. (g) Matt 16:18; Joh 10:28-30; Ps 129:1-5. (h) 1 Joh 3:I4, 19-21; 2 Kor
13:5; Rom 8:l0. (i) Ps 23:6; 1 Kor 1:8, 9; Joh 10:28; 1 Joh 2:19; 1 Pet 1:5.
Vraag 55: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?
Antwoord: Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here
Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het (a). Ten tweede dat elkeen verplig is
om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (b).
(a)1 Joh 1:3; Rom 8:32; 1 Kor 12:12, I3; 1 Kor 6:17. (b) 1 Kor 12:21; 13:1, 5; Fil 2:4-8.
Vraag 56: Wat glo jy van die vergewing van die sondes?
Antwoord:. Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my
sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer (a) wil dink nie. Uit genade wil Hy
aan my die geregtigheid van Christus skenk (b) sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom
nie (c).
(a)1 Joh 2:2; 1:7; 2 Kor 5:19. (b) Rom 7:23-25; Jer 31:34; Miga 7:19; Ps 103:3, 10, 12. (c) Joh
3:18; 5:24.
Sondag 22
Vraag 57: Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou?
Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal
word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer
met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).
(a)Luk 16:22; 23:43; Fil 1:21, 23. (b) Job 19:25, 26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21.
Vraag 58: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?
Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar
(a), ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit - 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor
gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie - om God daarin ewig te prys (b).
(a)2 Kor 5:2, 3. (b) 1 Kor 2:9.
Sondag 23
Vraag 59: Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?
Antwoord: Dat ek in Christus voor God geregverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe is (a).
(a)Hab 2:4; Rom 1:17; Joh 3:36.
Vraag 60: Hoe is jy regverdig voor God?
Antwoord: Slegs deur 'n ware geloof in Jesus Christus (a); so dat al kla my gewete my aan dat
ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie (b) en dat
ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (c), God nogtans (d) aan my sonder enige verdienste
van my kant (e), uit louter genade (f) die volkome genoegdoening (g), geregtigheid en heiligheid
van Christus skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek
self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad
het ek deel vir sover ek dit met 'n gelowige hart (j) aanneem.
(a)Rom 3:21, 22, 24; 5:1, 2; Gal 2:16; Ef 2:8, 9; Fil 3:9. (b) Rom 3:9. (c) Rom 7:23. (d) Rom
4:4; 2 Kor 5:19. (e) Tit 3:5; Deut 9:6; Eseg 36:22. (f) Rom 3:24; Ef 2:8. (g) 1 Joh 2:2. (h) 1
Joh 2:1. (i) 2 Kor 5:21. (j) Rom 3:22; Joh 3:18.
Vraag 61: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?
Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar
omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor
God is (a). En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie (b).
(a)1 Kor 1:30; 2:2. (b) 1 Joh 5:10.
Sondag 24
Vraag 62: Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of 'n deel daarvan
wees nie?
Antwoord: Omdat die geregtigheid wat voor die oordeel van God kan bestaan, heeltemal
volmaak moet wees en in alle opsigte met die wet van God ooreen moet stem (a) en omdat ook
ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is (b).
(a)Gal 3:10; Deut 27:26: (b) Jes 64:6.
Vraag 63: Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die
toekomstige lewe wil beloon?
Antwoord: Hierdie beloning word nie uit verdienste nie, maar uit genade gegee (a).
(a)Luk 17:10.
Vraag 64: Maar maak hierdie leer nie mense onverskillig en roekeloos nie?
Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat 'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ingeplant
is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie (a).
(a)Matt 7:18; Joh 15:5.
Sondag 25
Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so
'n geloof dan vandaan?
Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte (a) deur die verkondiging van die heilige
evangelie en versterk dit deur die gebruik van die sakramente (b).
(a)Ef 2:8; 6:23; Joh 3:5; Filp 1:29. (b) Matt 28:19; 1 Pet 1:22-23.
Vraag 66: Wat is sakramente?
Antwoord: Dit is heilige, sigbare tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik
daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte
is dat God vanweë die enige offer van Christus wat aan die kruis volbring is, vergewing van die
sondes en die ewige lewe uit genade skenk (a).
(a)Gen 17:11; Rom 4:11; Deut 30:6; Lev 6:25; Heb 9:7-9, 24; Eseg 20:12; Jes 6:6, 7; 54:9.
Vraag 67 : Is die Woord en die sakramente albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer
van Christus wat aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys?
Antwoord: Ja, seker, want die Heilige Gees leer ons in die evangelie en verseker ons deur die
sakramente dat ons volle saligheid op die enige offer van Christus rus, wat aan die kruis vir ons
volbring is (a).
(a)Rom 6:3; Gal 3:27.
Vraag 68: Hoeveel sakramente het Christus in die Nuwe Verbond of Testament ingestel?
Antwoord: Twee, naamlik die heilige doop en die heilige nagmaal.
Sondag 26
Vraag 69: Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer
van Christus aan die kruis jou ten goede kom?
Antwoord: So: Christus het die uitwendige waterbad ingestel (a). Daarby het Hy beloof (b) dat
ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes,
gewas is (c) as wat ek uitwendig met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam
wegneem.
(a)Matt 28:19. (b) Matt 28:19; Mark 16:16; Hand 2:38; Joh 1:33; Matt 3:11; Rom 6:3, 4. (c) 1
Pet 3:21; Mark 1:4; Luk 3:3.
Vraag 70: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?
Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die
bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het (a). Verder, om deur die
Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer
hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).
(a)Heb 12:24; 1 Pet 1:2; Op 1:5; 7:14; Sag 13:1; Eseg 36:25. (b) Joh 1:33; 3:5; 1 Kor 6:11;
12:13; Rom 6:4; Kol 2:12.
Vraag 71: Waar het Christus ons belowe dat Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was
as wat ons met die doopwater gewas word?
Antwoord: Met die instelling van die doop wat soos volg lui: "Gaan dan heen, maak dissipels van
al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees..." (Matt
28:19); en: "Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal
veroordeel word" (Mark 16:16). Hierdie belofte word ook herhaal waar die Skrif die doop die bad
van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes noem (Tit 3:5; Hand 22:16).
Sondag 27
Vraag 72: Is die uitwendige, waterbad self dan die afwassing van die sonde?
Antwoord: Nee (a), want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van
alle sondes (b).
(a)Matt 3:11; 1 Pet 3:21; Ef 5:26. (b) 1 Joh 1:7; 1 Kor 6:11.
Vraag 73: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die
afwassing van die sondes?
Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die
bloed en Gees van Christus ons sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam
wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons
net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas
word.
Vraag 74: Moet die jong kinders ook gedoop word?
Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente
ingesluit is (a). Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van
Christus die verlossing van die sondes (b) en die Heilige Gees wat die geloof werk (c), beloof nie.
Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en
van die kinders van die ongelowiges onderskei word (d). So is dit in die Ou Verbond deur die
besnydenis gedoen (e) in die plek waarvan die nuwe Verbond die doop ingestel is (f).
(a)Gen 17:7. (b) Matt 19:14. (c) Luk 1:15; Ps 22:11; Jes 44:1-3; Hand 2:39. (d) Hand 10:.47.
(e) Gen 17:14. (f) Kol 2:11-I3.
Sondag 28
Vraag 75: Hoe word jy in die heilige nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die
enige offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?.
Antwoord: Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte
brood te eet en van hierdie beker te drink. Daarby het Hy beloof (a), Ten eerste, dat sy liggaam
so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat ek met my
oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word. Ten tweede,
dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe
voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van
Christus se liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.
(a)Matt 26:26-28; Mark 14:22-24; Luk 22:19, 20; 1 Kor 10:16, 17; 11:23-25; 12:13.
Vraag 76: Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat
vergiet is, te drink?
Antwoord: Dit beteken nie slegs om met 'n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus
aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie (a). Dit beteken
boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy
geseënde liggaam verenig te word (b), dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is
(c); al is Christus nou in die hemel (d) en ons op die aarde. Dit wil se dat ons deur een Gees -
soos die ledemate van die liggaam deur een siel - ewig lewe en geregeer word (e).
(a)Joh 6:35, 40, 47, 48, 50, 51, 53, 54. (b) Joh 6:55, 56. (c) Ef 5:29, 30; 3:16; 1 Kor 6:15; 1
Joh 3:24; 4:13. (d) Kol 3:1; Hand 3:21; 1 Kor 11:26. (e) Joh 6:57; 15:1-6; Ef4:l5, l6.
Vraag 77: Waar het Christus beloof dat Hy die gelowiges so seker met sy liggaam en bloed sal
voed en verkwik as wat hulle van hierdie gebreekte brood eet en uit hierdie beker drink?
Antwoord: By die instelling van die nagmaal wat soos volg lui (a): "In die nag waarin Hy verraai
is, het die Here Jesus brood geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:
`Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook
die beker ná die ete met die woorde: Hierdie beker is die nuwe vtestament in my bloed; doen dit,
so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle van hierdie brood
eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom" (1 Kor 11:23-
26). Hierdie belofte word ook herhaal deur Paulus waar hy sê: "Die beker van danksegging wat
ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood
wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood
is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood" (1 Kor 10:16, 17).
(a)Matt 26:26-28; Mark 14:22-24; Luk 22:19, 20.
Sondag 29
Vraag 78: Verander die brood en wyn dan in die werklike liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: (a) Nee, maar soos die water by die doop nie in die bloed van Christus verander of
die afwassing van sonde self is nie, maar slegs 'n Goddelike teken en versekering daarvan (b), so
verander die brood by die nagmaal nie in die liggaam van Christus self nie (c). Ooreenkomstig die
aard en gebruik van die sakramente word die brood egter die liggaam van Christus genoem (d).
(a)Matt 26:29. (b) Ef 5:26; Tit 3:5. (c) 1 Kor 10:16; 11:26. (d) Gen 17:10, 11; Eks 12:11, 13;
13:9; 1 Pet 3:21; 1 Kor 10:3, 4.
Vraag 79: Waarom noem Christus dan die brood sy liggaam en die beker sy bloed of die nuwe
Testament in sy bloed en waarom noem Paulus dit die gemeenskap met die liggaam en bloed van
Christus?
Antwoord: Daar is gewigtige redes waarom Christus so sê: Hy wil ons daarmee leer dat, soos
brood en wyn die tydelike lewe onderhou, so voed sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as
die egte voedsel en drank, ons siele vir die ewige lewe (a). Verder wil Hy ons deur hierdie sigbare
tekens en waarborge veral verseker dat ons net so seker deur die werking van die Heilige Gees
aan sy ware liggaam en bloed deel kry as wat ons hierdie heilige tekens met die liggaamlike
mond tot sy gedagtenis ontvang (b). Hy verseker ons ook dat al sy lyding en gehoorsaamheid so
seker ons eie is asof ons self in eie persoon alles gely en die skuld vir ons sondes aan God ten
volle betaal het.
(a)Joh 6:55. (b) 1 Kor 10:16.
Sondag 30
Vraag 80: Wat is die onderskeid tussen die nagmaal van die Here en die Roomse mis?
Antwoord: Die nagmaal betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al ons sondes het, ter
wille van die enige offer van Jesus Christus wat Hy self eens en vir altyd aan die kruis volbring
het (a), en dat ons deur die Heilige Gees in Christus ingelyf word (b), wat nou na sy menslike
natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader (c) is en daar deur ons aanbid wil word (d).
Die Roomse mis, daarenteen, leer dat die lewendes en die gestorwenes nie deur die lyding van
Christus vergewing van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters
geoffer word. Verder dat Christus liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is en derhalwe daarin
aanbid moet word. Die mis is dus in wese niks anders nie as 'n verloëning van die enige offer en
lyding van Jesus Christus en 'n afgodery wat vervloek is (e).
(a)Heb 10:10, 12; 7:26, 27; 9:12, 25; Joh 19:30; Matt 26:28; Luk 22:19. (b) 1 Kor 10:16, 17;
6:17. (c) Joh 20:17; Kol 3:1; Heb 1:3; 8:1. (d) Matt 6:20, 21; Joh 4:21; Luk 24:52; Hand 7:55;
Kol 3:1; Fil 3:20; 1 Tess 1:10. (e) Heb 9:26;10:12, 14.
Vraag 81: Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?
Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes 'n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit
hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe
bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te
verbeter. Maar die huigelaars en die wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink 'n
veroordeling oor hulleself (a).
(a)1 Kor 11:28; 10:19-22.
Vraag 82: Moet die mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe
wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?
Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente
opgewek (a). Daarom is die Christelike kerk volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig
om sulke mense met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat hulle
verbetering van hulle lewe bewys.
(a)1 Kor 11:20, 34; Jes 1:11; 66:3; Jer 7:21; Ps 50:16.
Sondag 31
Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?
Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie
handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges
toegesluit.
Vraag 84: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie
oop- en toegesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik
verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste
van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof
aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van
God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie
getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.
(a)Joh 20:21-23; Matt 16:19.
Vraag 85: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog 'n
onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As
hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of
aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan
laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente
toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit.
Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike
verbetering beloof en bewys (a).
(a)Matt 18:15-17; 1 Kor 5:4, 5, 11; 2 Kor 2:6-8.
Sondag 32
Vraag 86: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van
ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?
Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige
Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is
vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van
ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus
kan wen (d).
(a)Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt
7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.
Vraag 87: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en
hulle nie tot God bekeer nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief,
gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a).
(a)1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14.
Sondag 33
Vraag 88: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens?
Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens
(a).
(a)Rom 6:1, 4-6; Ef4:22-24; Kol 3:5, 6, 8-10; 1 Kor 5:7; 2 Kor 7:10.
Vraag 89: Wat is die afsterwing van die ou mens?
Antwoord: Dit is 'n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom
hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug (a).
(a)Rom 8:13; Joël 2:13; Hos 6:1.
Vraag 90: Wat is die opstanding van die nuwe mens?
Antwoord: Dit is 'n hartlike vreugde in God deur Christus (a) en 'n lus en liefde om volgens die
wil van God in alle goeie werke te lewe (b).
(a)Rom 5:1; 14:17; Jes 57:15. (b) Rom 6:10, 11; Gal 2:20.
Vraag 91: Wat is goeie werke?
Antwoord: Slegs die wat uit 'n ware geloof (a), volgens die Wet van God (b), tot sy eer gedoen
word (c), en nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is
nie (d).
(a)Rom 14:23. (b) Lev 18:4; 1 Sam 15:22; Ef 2:10. (c) 1 Kor 10:31. (d) Eseg 20:18, 19; Jes
29:13; Matt 15:7-9.
Sondag 34
Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here?
Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here
jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het.
Die eerste gebod
Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
Die tweede gebod
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van
wat onder die aarde is of van wat in die water onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie
neerbuig en nie dien nie, want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God, wat die misdaad van die
vaders besoek aan die kinders, aan die derde en die vierde geslag van die wat My haat. En Ek
bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie onderhou.
Die derde gebod
Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy
Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
Die vierde gebod
Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die
sewende dag is die sabbat van die Here, dan mag jy geen werk doen nie - jy of jou seun of jou
dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is
nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is
en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het Hy die sabbatdag geseën en dit geheilig.
Die vyfde gebod
Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan
jou gee.
Die sesde gebod
Jy mag nie doodslaan nie.
Die sewende gebod
Jy mag nie egbreek nie.
Die agste gebod
Jy mag nie steel nie.
Die negende gebod
Jy mag geen vals getuienis teen jou naaste spreek nie.
Die tiende gebod
Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy
dienskneg, of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
Vraag 93: Hoe word hierdie gebooie ingedeel?
Antwoord: In twee tafels (a), waarvan die eerste in vier gebooie ons leer hoe ons ons teenoor
God moet gedra, die tweede in ses gebooie, wat ons aan ons naaste verskuldig is (b).
(a)Deut 4:13; Eks 34:28; Deut 10:3, 4. (b) Matt 22:37, 40.
Vraag 94: Wat gebied God in die eerste gebod?
Antwoord: Ek moet ter wille van my siele heil en saligheid alle afgodery (a), towery, waarsêery,
bygeloof (b), aanroeping van heiliges of ander skepsels (c) vermy en daarvan wegvlug. Ek moet
die enige ware God reg leer ken (d), Hom alleen vertrou (e), my slegs aan Hom met alle
nederigheid (f) en geduld onderwerp (g) en van Hom alleen alle goeie dinge (h) verwag. Ek moet
Hom met my hele hart liefhê (i), vrees (j) en eer (k). Sodoende sien ek eerder van alle skepsels
af as om in die minste teen sy wil te handel (1).
(a)1 Joh 5:21; 1 Kor 6:10; 10:7, 14. (b) Lev 19:31 Deut 18:9, 10, (c) Matt 4:10; Op 19:10;
22:8, 9. (d) Joh 17:3. (e) Jer 17:5, 7. (f) 1 Pet 5:5. (g) Heb 10:36; Kol l:11; Rom 5:3, 4; I Kor
10:10; Fil 2:14. (h) Ps 104:27; Jes 45:7; Jak 1:17. (i) Deut 6:5; Matt 22:37. (j) Deut 6:2; Ps
111:10; Spr 1:7; 9:10; Matt 10:28. (k) Matt 4:10; Deut 10:20. (1) Matt 5:29; 10:37; Hand
5:29.
Vraag 95: Wat is afgodery?
Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het,
of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel (a).
(a)Ef 5:5; 1 Kron 16:26; Fil 3:19; Gal 4:8; Ef 2:12; 1 Joh 2:23; 2 Joh 9; Joh 5:23.
Sondag 35
Vraag 96: Wat eis God in die tweede gebod?
Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie (a) en Hom op geen ander manier
vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (b).
(a)Jes 40:18, 19, 25; Deut 4:15, 16; Rom 1:23; Hand 17:29. (b) 1 Sam 15:23; Deut 12:30;
Matt 15:9.
Vraag 97: Mag ons dan glad nie beelde maak nie?
Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie (a). Die skepsels mag
wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te
vereer en Hom daardeur te dien (b).
(a)Jes 40:25. (b) Eks 34:17; 23:24; 34:13; Num 33:52.
Vraag 98: Mag ons beelde as "boeke van die leke" in die kerkgebou toelaat?
Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur
stom beelde nie (a), maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig (b).
(a)Jer 10:8; Heb 2:18. (b) Rom 10:14, 15, 17; 2 Pet 1:19; 2 Tim 3:16, 17.
Sondag 36
Vraag 99: Wat eis die derde gebod?
Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek (a), deur 'n valse
eed (b) of deur onnodig te sweer nie (c). Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat ons
aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God
nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons reg bely (f), aangeroep (g)
en in al ons woorde en werke geprys word (h).
(a)Lev 24:15, 16. (b) Lev 19:12. (c) Matt 5:37; Jak 5:12. (d) Lev 5:1; Spr 29:24. (e) Jer 4:2;
Jes 45:23. (f) Matt 10:32; Rom 10:9, 10. (g) Ps 50:15; 1 Tim 2:8. (h) Kol 3:17; Rom 2:24;1 Tim
6:1.
Vraag 100: Is dit dan so 'n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te
vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en
verbied nie?
Antwoord: Ja, seker (a), want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van
sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf (b).
(a)Spr 29:24; Lev 5:1. (b) Lev 24:16.
Sondag 37
Vraag 101: Mag 'n mens ook godvresend by die Naam van God 'n eed sweer?
Antwoord: Ja, as die owerheid dit van sy onderdane eis of as die nood dit vereis om daardeur
trou en waarheid te bevestig. Dit moet dan tot eer van God en tot heil van ons naaste gedoen
word. Sodanige eedswering is op die Woord van God gegrond (a), en die gelowiges in die Ou en
Nuwe Verbond het dit reg gebruik (b).
(a)Deut 6:13; 10:20; Jes 48:1; Heb 6:16. (b) Gen 21:24; 31:53; Jos 9:15; 1 Sam 24:23; 2 Sam
3:35; 1 Kon 1:29; Rom 1:9; 9:1; 2 Kor 1:23.
Vraag 102: Mag 'n mens ook by die heiliges of by ander skepsels sweer?
Antwoord: Nee, want om 'n regte eed te sweer, beteken dat ek God aanroep as die enigste
kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my te straf as ek vals sweer (a).
Hierdie eer kom geen skepsel toe nie (b).
(a)2 Kor l:23; Rom 9:1. (b) Matt 5:34-36; Jak 5:12.
Sondag 38
Vraag 103: Wat gebied God in die vierde gebod?
Antwoord: God wil Ten eerste dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou
word (a). Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom (b) om
die Woord van God te hoor (c), die sakramente te gebruik (d), die Here openlik aan te roep (e)
en die Christelike liefdegawes te gee (f). Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose
werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in
hierdie lewe (g).
(a)Tit 1:5; 2 Tim 3:14; 1 Kor 9:13, 14; 2 Tim 2:2; 3:15. (b) Ps 40:10, 11; 68:27; Hand 2:42. (c)
1 Tim 4:13;1 Kor 14:29. (d) 1 Kor 11:33. (e) 1 Tim 2:1; 1 Kor:l4:l6. (f) 1 Kor 16:2. (g) Jes
66:23.
Sondag 39
Vraag 104: Wat eis God in die vyfde gebod?
Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou
bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp
(a). Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).
(a)Ef 6:1, 2, 5; Kol 3:18, 20, 22; Ef 5:22; Spr 1:8; 4:1; 15:20; 20:20; Eks 21:17; Rom 13:1.
(b) Spr 23:22; Gen 9:24;1 Pet 2:18. (c) Ef 6:4, 9; Kol 3:20; Rom 13:2, 3; Matt 22:21:
Sondag 40
Vraag 105: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of
doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met
die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of
moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer
(d).
(a)Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol
2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
Vraag 106: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns,
haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku.. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a)Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
Vraag 107: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos
hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet
liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en
vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs
aan ons vyande goed doen (d).
(a)Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt
5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Sondag 41
Vraag 108: Wat leer die sewende gebod ons?
Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat
(b). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c) sowel binne as buite die huwelik (d).
(a)Lev 18:28. (b) Jud 1:23. (c) 1 Tess 4:3-5. (d) Heb 13:4; 1 Kor 7:7.
Vraag 109: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?
Antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel, 'n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons
altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde (a),
gedagtes, luste (b) en alles wat 'n mens daartoe kan verlei (c).
(a)Ef 5:3, 4; 1 Kor 6:18, 19. (b) Matt 5:27, 28. (c) Ef 5:18; 1 Kor 15:33.
Sondag 42
Vraag 110: Wat verbied God in die agste gebod?
Antwoord: God verbied nie slegs die diefstal (a) en roof (b) wat die owerheid straf nie, maar Hy
beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se
besittings in die hande te kry (c). Dit kan gebeur met geweld of 'n skyn van reg, soos deur die
vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, (d), geld, deur woeker (e) of enige
middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid (f) en alle misbruik en verkwisting van sy
gawes (g).
(a)1 Kor 6:10. (b) 1 Kor 5:10; Jes 33:1. (c) Luk 3:14; 1 Tess 4:6. (d) Spr 11:1; 16:11; Eseg
45:9, 10; Deut 25:13. (e) Ps 15:5; Luk 6:35. (f) 1 Kor 6:10. (g) Spr 23:20, 21; 21:20.
Vraag 111: Maar wat gebied God jou in hierdie gebod?
Antwoord: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so
behandel soos ek wil he dat hy my moet behandel (a). Daarby moet ek ook my werk getrou
doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help (b).
(a)Matt 7:12. (b) Ef 4:28
Sondag 43
Vraag 112: Wat eis die negende gebod?
Antwoord: Ek mag teen niemand valse getuienis aflê (a), niemand se woorde verdraai (b), nie
'n kwaadsteker of lasteraar wees nie (c), niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie (d).
Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel (e) se eie werke vermy as ek nie die sware
toorn van God oor my wil bring (f) nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die
waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely (g). My naaste se eer en goeie naam moet
ek na my vermoë verdedig en bevorder (h).
(a)Spr 19:5, 9; 21:28. (b) Ps 15:3; 50:19, 20. (c) Rom 1:30. (d) Matt 7:1; Luk 6:37. (e) Joh
8:44. (f) Spr 12:22; 13:5. (g) 1 Kor 13:6; Ef 4:25. (h) 1 Pet 4:8.
Sondag 44
Vraag 113: Wat eis die tiende gebod van ons?
Antwoord: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons
hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en 'n begeerte tot alle
geregtigheid hê (a).
(a)Rom 7:7.
Vraag 114: Maar kan die wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?
Antwoord: Nee, want selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar 'n
geringe begin van hierdie gehoorsaamheid (a), maar tog so dat hulle met 'n ernstige voorneme
begin om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe (b).
(a)1 Joh 1:8; Rom 7:14, 15; Pred 7:20; 1 Kor 13:9. (b) Rom 7:22; Ps 1:2.
Vraag 115: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit
tog in hierdie lewe kan onderhou nie?
Antwoord: Ten eerste sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe
beter kan leer ken (a), en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die
geregtigheid in Christus kan soek (b). Ten tweede moet ons ons sonder ophou beywer en God om
die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God
vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik (c).
(a)Rom 3:20; 1 Joh 1:9; Ps 32:5. (b) Matt 5:6; Rom 7:24, 25. (c) 1 Kor 9:24; Fil 3:12-14.
Sondag 45
Vraag 116: Waarom is die gebed vir die Christene nodig?
Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis (a): En
omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge
sonder ophou daarom bid en daarvoor dank (b).
(a)Ps 50:14. (b) Matt 7:7; Luk 11:9, 13; 1 Tess 5:17.
Vraag 117: Hoe moet 'n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word?
Antwoord: Ten eerste moet ons alleen die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het
(a), van harte aanroep (b) vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid (c). Ten tweede moet
ons ons nood en ellende reg en grondig ken (d) sodat ons ons voor sy majesteit kan
verootmoedig (e). Ten derde het ons hierdie vaste grond (f) dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie
verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor (g) soos Hy dit vir ons in sy
Woord beloof het (h).
(a)Op 19:10; Joh 4:22-24. (b) Rom 8:26; 1 Joh 5:14; Jak 1:5. (c) Joh 4:24; Ps 145:18. (d) 2
Kron 20:12. (e) Ps 2:11; 34:19; Jes 66:2. (f) Rom 10:14; Jak 1:6. (g) Joh 14:13;16:23; Dan
9:18. (h) Matt 7:8; Ps 27:8.
Vraag 118: Wat het God ons beveel om van Hom te bid?
Antwoord: Alle geestelike en liggaamlike behoeftes wat Christus saamgevat het, in die gebed
wat Hy self aan ons geleer het (a). (a) Jak 1:17; Matt 6:33.
Vraag 119: Hoe lui hierdie gebed?
Antwoord: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat
u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood, en
vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid. Amen.
(a)Matt 6:9-13; Luk 11:2-4.
Sondag 46
Vraag 120: Waarom het Christus ons beveel om God as ons Vader aan te spreek?
Antwoord: Sodat Hy heel aan die begin van ons gebed in ons die kinderlike vrees en vertroue op
God sal wek. Dit moet die grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader
geword het, en dat Hy ons veel minder dit wat ons van Hom in die geloof bid, sal weier as wat
ons vaders aardse dinge ons ontsê (a).
(a)Matt 7:9-11; Luk 11:11-13.
Vraag 121: Waarom word hier bygevoeg: wat in die hemel is?
Antwoord: Sodat ons van die hemelse majesteit van God nie aards moet dink nie (a) en van sy
almag alles verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het (b).
(a)Jer 23:23, 24; Hand 17:24, 25, 27. (b) Rom 10:12.
Sondag 47
Vraag 122: Wat is die eerste bede?
Antwoord: Laat u Naam geheilig word. Dit is: Gee allereers dat ons U reg ken (a) en dat ons U
heilig, roem en prys in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid,
barmhartigheid en waarheid so skitter (b). Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde
en werke daarop sal rig dat u Naam nie om ons ontwil gelaster nie, maar geëer en geprys word
(c).
(a)Joh 17:3; Jer 9:24; 31:33, 34; Matt 16:17; Jak 1:5; Ps 119:105. (b) Ps 119:137; Luk 1:46,
47, 68, 69; Rom 11:33. (c) Ps 71:8;115:1.
Sondag 48
Vraag 123: Wat is die tweede bede?
Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe
langer hoe meer aan U onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig die werke
van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige
Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles in almal sal
wees (e).
(a)Ps 143:10; 119:5; Matt 6:33. (b) Ps 51:20; 112:6. (c) 1 Joh 3:8; Rom 16:20. (d) Op 22:20;
Rom 8:22, 23. (e) 1 Kor 15:28.
Sondag 49
Vraag 124: Wat is die derde bede?
Antwoord: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Dit is: Gee dat ons en
alle mense ons eie wil prysgee (a) om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery
gehoorsaam te wees (b), sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen
en uitvoer (c) soos die engele in die hemel (d).
(a)Matt 16:24; Tit 2:11, 12. (b) Luk 22:42; Ef 5:10; Rom 12:2. (c) 1 Kor 7:24. (d) Ps 103:20,
21.
Sondag 50
Vraag 125: Wat is die vierde bede?
Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: Versorg ons met alles wat vir die
liggaam nodig is (a), sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is
(b), en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie (c). Gee
daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel (d).
(a)Ps 145:15; 104:27; Matt 6:26. (b) Jak 1:17; Hand 14:17; 17:27. (c) 1 Kor 15:58; Deut 8:3;
Ps 37:16; 127:1, 2. (d) Ps 55:23; 62:11; 146:3; Jer 17:5, 7.
Sondag 51
Vraag 126: Wat is die vyfde bede?
Antwoord: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Dit is: Reken ons,
arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef, ter wille van die bloed
van Christus, nie toe nie (a). Ons bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons
vind: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe (b).
(a)Ps 51:3; 143:2; 1 Joh 2:1; Rom 8:1. (b) Matt 6:14
Sondag 52
Vraag 127: Wat is die sesde bede?
Antwoord: En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: Ons is in
onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie (a). Daarby hou ons doodsvyande,
die duiwel (b), die wêreld (c) en ons eie sondige natuur (d), nie op om ons aan te val nie. Wil U
ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk
teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk (e) nie, totdat ons eindelik die
oorwinning volkome behaal (f).
(a)Joh 15:5; Ps 103:14. (b) 1 Pet 5:8; Ef 6:12. (c) Joh 15:19. (d) Rom 7:23; Gal 5:17. (e) Matt
26:41; Mark 13:33. (f) 1 Tess 3:13; 5:23.
Vraag 128: Hoe sluit jy jou gebed af?
Antwoord: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Dit
is: Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil
en kan gee (a) sodat daardeur nie ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal word (b).
(a)Rom 10:12; 2 Pet 2:9. (b) Joh 14:13; Jer 33:8, 9; Ps 115:1.
Vraag 129: Wat beteken die woord Amen?
Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor
as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer (a).
(a)2 Kor 1:20; 2 Tim 2:13.