Die Apostoliese Geloofsbelydenis

OF: TWAALF ARTIKELS VAN DIE ALGEMENE ONGETWYFELDE, CHRISTELIKE GELOOF


Die Christelike Kerk noem hierdie Belydenisskrif die Apostoliese Geloofsbelydenis,
alhoewel die apostels dit nie opgestel het nie. Reeds vanaf die 2de eeu het dit sy
ontstaan gehad en het verder ontwikkel totdat dit ongeveer die vierde eeu sy finale
beslag gekry het (NGB, art. 9).

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
Hy het die lyding van die hel ondergaan*.
Hy het op die derde dag opgestaan uit die dood;
opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
waarvandaan Hy sal kom om die lewendes
en die dooies te oordeel.
Ek glo in die Heilige Gees;
Ek glo aan 'n heilige, algemene Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die liggaam
en 'n ewige lewe.

* Grondteks: en neergedaal het na die hel